2013-02-08 "Die Burger"
Belge kom maak maltrap-musiek
Beethoven sou seker graag vir Mick Jagger aan sy haardos wou rondruk. Led Zeppelin sou dalk hier en daar soos Vivaldi wou klink. ’n Mens vermoed maar net onenigheid en jaloesie tussen rock en klassieke musiek. Maar nou konfronteer Jammoo jou direk, en met hope humor, daarmee.
Dié Belgiese duo wys jou hoe musiek ook met humor en aanskoulikheid uitgevoer kan word.
Frederik Caelen is klassiek opgelei in klavier en trekklavier. Hy beskryf homself as groot, swart, pragtig en rond. Kyk jy na hom, sien jy nie veel van hierdie beskrywing nie. Jy sien ’n maer man met grys hare en sensitiewe hande.
Maar in ’n oogwink verander hy in ’n brullende leeu as hy sy “tweelingbroer” Ron de Rauw aan die kuif gryp. De Rauw is die korter een van die twee. Hy is ook die wilde een. “Ek verpersoonlik stres. Ek is die pasiënt voordat hy ’n kalmeermiddel gegee word, Frederik is die een ná behandeling. Hy is meer besadig. Hy is eintlik Zen.”
De Rauw vertel met ’n laggie dat hy juis in België in ’n advertensie vir ’n kalmeermiddel te sien is.
Hulle beskryf hul vertoning as “klassiek-ontmoet-rock, ’n vertoning vir dowes en blindes in enige taal, musiek met humor en veral een van kontraste”.
Hul sukses lê juis in die verskille tussen hulle.
“Ons is soos Laurel en Hardy,” sê De Rauw. Hy verduidelik dat Jummoo die fonetiese uitspraak van tweeling in Frans is. Dat hulle hulself as tweeling bemark, sorg vir baie pret.
Hulle speel hoofsaaklik bekende melodieë sodat mense tuis kan voel met wat op die verhoog gebeur.
“Daar is lae in ons musiek,” sê Caelen. “Die eerste laag is daar vir almal en dan is daar grappe vir dié wat dalk anders ingelig is.”
Hoewel hulle op die verhoog die hele tyd met mekaar meeding, is alles in ’n goeie gees.
“Ons hoofdoel is om mense in sowat 90 minute van alles te laat vergeet. Daar was een keer ’n man wat tien keer na mekaar na ons kom kyk het"
“Toe ons met hom gesels, hoor ons sy dogter het pas aan kanker gesterf. Ons het dit reggekry om hom tien aande van sy hartseer te laat vergeet,” vertel De Rauw.
Hy het die duo in 1998 saam met ’n ander klavierspeler begin. Hy en Caelen werk sedert 2009 saam.
Hulle het hierdie vertoning reeds in vyf lande opgevoer en was al sowat 120 keer op die verhoog daarmee.
Hulle het spesiaal een van hul landgenote Jacques Brel se liedjies in Afrikaans voorberei.
Gevra of die fisieke teaterstreke hulle nie uitput nie, antwoord De Rauw: “Nee, dis vir ons soos meditasie.”
Op die vraag of hulle ooit die verkeerde note slaan ná ’n streek of twee, knip Calen sy oë effens vinniger en kry ’n half gebelgde “nee” uit.
Selfs in die onderhoud is die twee se humor en energie aansteeklik. Maak jou dus maar reg vir ’n ander soort meditasie as die gewone.